Nee, moenie bekommerd wees nie, hierdie gaan nie oor lyflike (on)plesiere nie.

funny-wedding-cake-topper-wilton-oh-no-you-dont-humorous-cake-topper

Een van menz kollegas se oudste dogter het onlangs tydens Innibos in Nelspruit verloof geraak. Vandat sy die nuus gehoor het, het sy slapelose nagte oor die troue. Nie die voornemende bruid nie, die moer moeder van die bruid. Die troue is einde Maart 2017. In George – 1300 km weg van waar die moeder haar bevind. Uit haar beheer uit, wat die grootste oorsaak van al die stres is – sy kan nie voor die tyd gaan kyk na die perseel of die roetes of die bome of die poedingbakkies of die stoele of die watookal nie.

Sy byt vaster as ‘n skilpad aan alle take wat aan haar opgelê word, wat baie handig te pas kom met debiteure invorder en data op ons stelsels op standaard hou. En dis waar die anal-gedeelte in kom. Sy laat los nie. Nie vir enigiets nie. Vir fokol niks.

Sy maak glasbottels bymekaar met ‘n passie. Asof haar lewe daarvan afhang. Jacobs koffie-bottels en Purity bottels. Menz is te bang om te vra waarvoor. Menz skenk maar wat menz het en bly verder daaruit.

Vandag word ons mening toe nou gevra: wie se naam kom eerste op die troukaartjies/uitnodigings? Die huidige tendens is blykbaar dat die bruid en bruidegom die uitnodiging rig en die ouers se name nie verskyn nie. Nie goed genoeg vir moeder nie.

Reg. Nou wil die voorgenome bruidspaar die uitnodiging as volg rig:

Sannie, dogter van Annie en Piet van Pollemonster

en

Pietman, seun van Susan en Bulletjie Poggenpoel …..

NEE!!! Die banale skande!!! Die man se naam moet eerste kom, dit word al van die Groot Trek so gedoen (tranerig). En hoe gaan die ouers en grootouers en oergrootouers nou voel en in hulle grafte omdraai (die wat reeds gegroet het) as dit nie SO gedoen word nie? *snik*

Menz se totale bedrae as opmerking oor die hele kwessie:

FOK. Maak dit saak? Laat hulle doen wat hulle wil.

O heilige wit eland!! Dis asof menz by menzself die oorsaak van die sondeval was! Die kyk met die afwaartse mondhoeke wat in menz se rigting geslinger is, sal seker nog vir drie weke menz se hare laat kroes.

Menz sal maar in die vervolg wanneer die onderwerp opgehaal word, menz se koppie agter die afskorting laat sak en buite sig bly. Met ‘n toe mond. Dan bly dit immers heel. Menz vermoed dat grootmaat hoeveelhede Valiums nodig sal wees in die nabye toekoms om menz deur die werksdag te kry (sonder dat kollegas aangerand of in die voorraadkabinet geprop word).

Poerdez

 

Advertisements