Die meeste van ons het groot geword en iemand geken wat either by die spoorweg, Yskor, polisie, weermag, staat, poskantoor of mislikepailteit gewerk het. Wat banaal middelklas was, nou uiters desperaat laerklas.

Maar meestal goeie mense. Nee, nie maar nie. Net. Gewone mense. Al was daar tannies wat hulle verbeel het hulle hoort eintlik in Waterkloof te bly en nie in Daspoort nie. Ooms wat net soos die ooms in Waterkloof die katjies in die donker geknyp het, al het hulle nie die geld of die looks gehad om aandag te trek nie (of die geld en die looks wat hulle gedink het hulle het nie).

Daardie tyd was daar nie iets soos ‘n wit plakkerskamp nie. Die rêrige arm mense het in woonstelle in Sunnyside of Arcadia gebly. Of later in ‘n RDP huis in voorheen-gemiddelde woonbuurte. Almal in die onmiddelike omgewing het mekaar geken en gegroet. Soms by mekaar gebraai of gekuier (is braai en kuier eintlik dieselfde ding?). Almal het vrugtebome in hulle tuine gehad en gespog met hulle rose en ranonkels. Die huise was gereeld geverf en die gras altyd kort. Die grootste sonde was om ontydig swanger te raak en die kerke het almal gepreek oor die vagevuur en die duiwel wat jou sal ry as jy nie in jou spoor trap nie.

As menz alle ander dinge buite berekening laat (dit wat na 1994 van die land geword het, inflasie, belasting en misdade wat onaangemeld gebly het), verlang menz tog terug na daardie tyd.

Dit was ongekompliseerd. Almal het net ‘n lewe probeer maak. Dit was nie die war zone waarin ons vandag leef nie. Dit was ook voor die koms van die rekenaar en die internet, toe almal nog koerant gelees het en nuus gekyk het. Ons het minder geweet en miskien was dit beter so.

Menz dink: hoe minder jy weet, hoe minder worry jy. Hoe meer jy weet, hoe minder slaap jy.

*sug*

Poerdez

 

Advertisements