facepalm

Een Saterdag-oggend vroeg sit menz en menzseMan af Builders’ Warehouse toe om kruideniersware te gaan koop …. nie groceries nie, die van die soort waarmee menzseMan werk en nodig het. Onder andere is daar ‘n oorpak op menzseMan se lysie.

Tussen die rakke by die oorpakke slaan menzseMan toe vas en kry so ‘n kyk in sy oë. So ‘n berekende kyk as hy verby die S/M/L/XL sakkies blaai. Want nie een van daai gaan werk nie, sien. MenzseMan het hard en lank gewerk aan sy vaatjie (opgegradeer van 6pak af) en die pas nie in S/M/L/XL pakkies nie.

Toe hy sy eerste hempsknoop los knoop, toe besluit menz wyslik om ‘n draai te gaan maak in die verf-afdeling wat heel aan die verste kant van die winkel is. Want menzseMan soek ‘n een-stuk-pretpakkie, nie die gewone broek-en-baadjie nie.

Menz maak toe asof menz net so verbaas is oor die lawaai wat weerklink uit die protective clothing gangetjie soos die res van die kopers. Maar menz gaan nie nader om te kyk nie, menz is VREESLIK besig om die nuwe kleurkaarte van die seisoen te beskou.

Dit het omtrent 30 minute geneem vir die geraas om te bedaar in die winkel. Menz kry toe ‘n SMS wat lees: “Is jy klaar? Ek wil ry.” Menz haas toe maar na buite en klim in die bakkie, sien die winkelbestuurder en 3 handlangers staan in die omgewing rond – so asof hulle wil seker maak daar word wel gery en dat die winkel nie weer betree word nie.

Veel, veel later word menz die volle storie vertel.

MenzseMan wou die oorpak wat hy reken naastenby die regte grootte is, aanpas. Maar menzseMan dra nie veel onder sy oorpak as hy hom aanhet nie, sien. Maar die genoemde oorpakkie mag ook nie te groot wees nie, anders peul die openinge oop en kry hy koud; dus kan hy dit nie OOR sy klere aanpas nie.

MenzseMan bespied toe die omgewing en toe alles veilig lyk, toe trek hy AL sy klere uit. Om die oorpak te kan pas soos hy bedoel is om gedra te word, dus. Mos. Alles sou vlot en voorspoedig verloop het indien sy linkervoet nie dwars in die pyp vasgesteek het en hy al springende op die regterbeen so spoedig moontlik in die pakkie probeer kom het nie. MenzseMan se balans is nie van die beste nie en al springende beweeg hy toe agteruit na die ingang van die ry toe ….

Die gegil en gejil van die groep vroue kon aan die ander kant van die winkel gehoor word.

Daar waar menz toe nog deurdringend die kleurkaarte beskou. Nodeloos om te sê wou die bestuurder nie menzseMan se verduideliks aanvaar nie, hy is hardhandig aangetrek en sonder oorpak die winkel uitgesit. Sy foto pryk nou op die deur en daar staan nie “Welkom” onder aan sy foto nie ….

Poerdez

PS: As menzseMan sy skoene saam met sy klere uitgetrek het, sou sy voet seker nie vas gesit het in die oorpakkie se pyp nie …

PPS: Ons weet nou nog nie of die 3XL speelpakkie pas nie. Menz het aangebied om een te gaan kry om in privaatheid aan te pas, maar menz is doodgeswyg …